Dis waaroor dit gaan…

Ek bevind myself op vreemde grond. Ek mis my land en my mense. Ek mis my taal. Ek mis die manier waarop ons mense dinge sê. Hierdie intense verlange oorreed my om nie my taal te verwaarloos nie en die skrywe op hierdie bladsye is die uitvloeisel van die oorreding en verlange.

My tyd is beperk, maar my gedagtes en stories onbeperk en daarom hou ek dit kort. Ek is geen skrywer van formaat nie. Die laaste skrywe waarvoor ek beoordeling ontvang het, was in een my eerstejaar kursusse en ek glo nie ek was toe onder die top 100 studente nie! Ek skrywe nie vir ‘n lewe nie – ek skryf om die lewe meer sin te gee. Noem dit maar ‘n tipe van klankbord. Dis die uiting van kreatiwiteit, ‘n soort vrylating van energie. Dis ook die neem van ‘n blaaskans by die neersit van bagasie waaraan ek swaar gedra het.

IMG_1040Ek noem die uitvloeisel van my gedagtes Kringloop. Op ‘n snaakse, onverklaarbare  manier het dinge meeste van die tyd die gewoonte om maar in sirkels om te gaan. ‘n Kringloop van begin tot einde.

My skrywes is gratis. Indien nie,  sou ek ‘n waarskuwing moes byvoeg: Caveat emptor!