Wat is in ‘n datum?

IMG_2261Die opwinding van nog ‘n Kersfees se kom en gaan lê vlak in die onlangse verlede. Dit was sommer nou die dag en voor ons ons oë kan uitvee, is ons weer daar met al die gepaardgaande opwinding, geheimhouding en haarfyn beplanning. Alhoewel Kersfees een van die hoogtepunte is op die Christelike kalender, is dit onomwonde ook ‘n hoogtepunt op die kalender van die winkeleienaars en diegene wat die draaiïng van die seisoen herdenk. Met Kersfees saam, gaan daar ‘n goeie klompie dinge hand aan hand met mekaar in positiewe gees van liefde en welwillendheid om die feesseisoen op te helder en sodoende meer of dieper betekenis daaraan te gee. Hedendaagse christene herdenk die geboorte van hulle (R)edder, (S)aligmaker, (V)erlosser en komende (K)oning net soos wat die christene dit gedoen het vir die afgelope ongeveer 1600 jaar. Die kanse is baie goed dat dit steeds een van die hoogtepunte op die kalender gaan bly vir christene vir die toekoms tensy daar ‘n drastiese herskryf van die Christelike dogma sou plaasvind.

Nieteenstaande die feit dat etlike geskiedskrywers die geboorte van Christus nie verbind met die 25ste Desember nie, hou christene nog steeds vol dat hulle die geboorte van Christus vier op 25 Desember, ongeag die afwesigheid van enige definitiewe en konkrete bewyse. Geskiedskrywers plaas die datum iewers in die Noordelike halfrond se Lente, maar kan dit ook nie verbind met ‘n spesifieke datum nie. Die geboorte van Christus op 25 Desember word vir die eerste maal in historiese rekords vermeld in die 4de eeu A.D. Vyftig jaar nadat die Romeine 25 Desember as ‘n amptelike vakansiedag verklaar het ter ere aan Sol Invictus hulle god, het Konstantyn dieselfde dag aangeneem as die herdenking van Christus se geboorte in 336 A.D. Die heel vroegste Christelike skrywers o.a. Tertullian, Irenaeus, Origen en selfs die evangelieskrywers, meld geen verwysing van enige datum nie.

img_2271.jpgWinkeleienaars is in ekstase oor die Kersseisoen. Vir hulle is dit ‘n gulde en ideale geleentheid om op te maak vir al die maande gedurende die jaar,  wat nie gekenmerk was deur top vekoopsyfers nie. Die datum of die geleentheid raak hulle min. Besighede is ingestel op wins. Dis hulle primêre oogmerk en Kersfees is een van die winsteskeppers in die siklus van besigheid.

Diegene wat die draaiïng van die seisoen of sogenaamde “Winter Soltice” ( sol = son; sistere = stilstand) vier, is die groep wat die datum en die feite korrek het. Die “Winter Soltice” is die een dag in die hele jaar met die minste ure sonlig. Hierdie dag val gewoonlik op 21 of 22 Desember in die Noordelike halfrond. Op hierdie dag, bereik die son sy laagste Suidelike posisie en die dag daarna begin dit Noord te beweeg vanuit hierdie Suidelike posisie. Vir etlike dae na die draaiïng, is die verskil in sonskyn bykans onwaarneembaar en lyk dit letterlik of die son stilstaan, vandaar die woord “solstice”. Hierdie gebeutenis is vanaf die vroegste tye deur inwoners van die Noordelike halfrond gevier en is daar verskeie geskiedkundige rekords ter stawing van hierdie feit.

_DSC9869Christus is nie die enigste persoon wat ‘n geboorte vier op 25 Desember nie. Daar is heelwat gode uit die mitologie wat o.a. ook ‘n maagdelike geboorte op die 25ste Desember vier. (Horus, Osiris, Attis, Mithra, Heracles, Dionysus, Tammuz en Adonisen is maar sommige van hulle.) Dis hierdie feite wat mens laat wonder waarom die Christene nie beswaar maak teen die datum nie. Selfs beter, waarom hulle nie ‘n unieke, feitelik korrekte datum vir Christus se geboorte kon kies of bepaal nie. Christene wil hulleself onder alle omstandighede distansieer van alle vreemde gode. Hulle selfs nie verbind met enige geloof of dogma buite die Christendom nie, maar tog is hulle bereid, gewillig en tevrede om die geboortedag van Christus met vele ander mitologiese gode te deel.

Menige christene redeneer in sirkels rondom hierdie vraagstuk en nog steeds ontwyk die logiese antwoord. Uit hierdie “fout” op die Christelike kalender maak ek die afleiding dat christene onbewus is van die feit dat hulle (G)od ook net nog een van die gode is wat die Mitologiese wêreld vir ons opgelewer het. Indien nie, waarom vier hulle hoegenaamd hierdie dag en die verbinding wat daarmee saamgaan, as die maagdelike geboorte van Christus? Meeste christene is tog bewus van die feit rondom die datum.

Die antwoord lê daarin dat christene vasgevang is in ‘n dogma en die voorskrifte van hulle onderskeie gelowe en kerke. Self vra hulle nie die vrae nie, want hulle vertrou diegene wat leiding neem se interpretasie. Christene plaas hulle hele lewe, hulle voortbestaan en hulle welsyn in die hande van Christus wat ‘n geboortedag en ooreenkomste deel met ander gode uit die wêreld van die mitologie. Die enigste ding wat hulle het ter bevestiging, is hulle onwrikbare geloof. Wie of wat is dan nou die redder? Christus of geloof?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s