Suikersoet verleiding

img_2139.jpg

Koshuisdae lank gelede laat my altyd met heimweë. Daar is soveel dinge wat my as mens gevorm het waarvoor ek ontsettend dankbaar is. As kind was daar soveel sorgvrye oomblikke in my verlede. Kinders maak absoluut staat op die leiding en voorgang van figure van outoriteit in hulle jong lewens. ‘n Jong brein en psige is in totaliteit uitgelewer vir vorming,  omvorming en hervorming. Vandag, as ek in retrospeksie daarna kyk, dan voel ek geskok as ek die diepe onwrikbare werklikheid van hierdie situasie besef. Daar is ‘n enorme verantwoordelikheid wat rus op ouers, familie, onderwysers en in die breë, die publieke sfeer waarin kinders grootword.

Met reg kan daar verwys word na die enorme invloed wat die omgewing waarin ons grootword, op ons uitoefen. Verskeie studies is deur verskeie akademici oor hierdie onderwerp gedoen. Ons “omgewing” is letterlik alles waarmee ons in kontak kom vanaf die oomblik dat ons die eerste asemteug gee buite die beskermende omgewing van die baarmoeder. Daar is egter verdere studies wat daarop dui dat ongebore babas selfs voor geboorte bewus is van hulle omgewing. As kind was ek salig onbewus van hierdie “omgewings” waarin ek grootword het en nog minder was ek bewus van die invloed wat my “omgewing” op my latere lewe sou hê. Geluk speel daadwerklik ‘n onbetwisbare rol as dit kom by die weergawe van die “omgewing” waarin ons gebore word.

My omgewing was bepaal. Een van die kardinale komponente in my omgewing was ‘n streng, konserwatiewe christelike lewenswyse. So was dit vir my familie vir ten minste die drie geslagte wat ek voor my geken het. Daar was uiteraard vrot appels in die mandjie, maar die grootste gedeelte van die appels in die mandjie was goeie, eetbare appels en dis aan hulle te danke dat ek ook ‘n goeie, eetbare appel is. Herinneringe aan my kindwees en kinderdae is die dinge wat ek koester, maar ook die dinge waaruit ek so baie omtrent myself en my latere lewensuitkyk geleer het. Terug na hierdie herinneringe…

Koshuisontbyte was gewoonlik een of ander soort pap stomend warm opgedis, waaraan niemand durf raak het voor die tafelgebed gedoen was nie. Natuurlik nie die hedendaagse bokspap wat pryk op meeste moderne kombuistafels nie. Ons spyskaart was gewoonlik een van die volgende: mieliepap (slap of gekrummel), hawermoutpap, bruinpap en dan met rare geleenthede sou ons graanvlokkies kry. Melk, botter en suiker was altyd die gepaardgaande items wat moes sorg dat die borde dolleeg teruggaan kombuis toe. Naweke by die huis, was die spyskaart nie veel anders nie en vakansietye nog minder. Ek glo dit was ‘n trots Suid-Afrikaanse ontbyt in meeste huise van die tyd. So ook die Bybel en die tafelgebede.

As kind was dit my omgewing en ek het weliswaar niks fout daarmee gesien nie, want ek het niks anders geken nie. Almal het maar soos ons huigesin gedoen en daar was nie ‘n vergelykbare alternatief nie. Later in my lewe het ek begin wonder wat ek vir ontbyt sou kry as ek in Ierland gebore was. My pa se voorouers was hoeka uit Ierland. Kinders van my tyd was gesien en nie gehoor nie. Dit was nog ‘n universeële ding in my wêreld. Ek en al die ander van my generasie, het gedoen soos ons beveel was en soos ons gesien het. In die streng sin van die woord was ons almal navolgers.  Niemand het dit gewaag om dinge te betwyfel nie. Dit is hoe dit was. Dit was hoe die wiel ontwerp was in my “omgewing” en eers jare later kon ek die malligheid in dit alles sien. Uiteraard het weinig van ons probeer om hierdie wiel te herontwerp.

Die suiker oor die pap was lekker. ‘n Soete verleiding. Pap was net lekker as daar suiker oor was. Niemand het nèt pap geëet vir ontbyt nie. Nee, die melk en botter sonder die suiker kon nooit opmaak vir die gebrek aan suiker nie. En dit is die manier hoe jy kinders vir altyd verslaaf aan suiker. Vir altyd… of totdat hulle begin vet word en gesondheidsprobleme ontwikkel. Die dinge wat ons gemaklik en geborge laat voel in die lewe, ons herinner aan goeie dae en soet smake, is gewoonlik die dinge wat ons laaste ondersoek as faktore bydraend tot ons eie ondergang.

Nou is ek genoop om my dieet onder die loep te plaas. Ek word gedwing om indringend na suiker in my dieet te kyk. Die soete verleiding van suiker wat ek geken het van my kindsdae af, waarmee ek nooit sou kon foutvind nie, want dit het so reg en eg geproe en almal het dit gebruik. Kon almal verkeerd wees? Kon dit wees dat suiker net ‘n lekker soet smakie gee om my vir altyd ‘n slaaf daarvan te hou? Wat was die eintlike geraamte wat suiker uit die kas sou bring?

Vir elke individu wat ‘n studie oor suiker gemaak het en die rol wat dit in ons daaglikse dieëte speel nagevors het, sal dit duidelik word dat suiker geen voedingswaarde inhou nie. Dit IS letterlik net ‘n soet verleiding en ons liggame het dit glad nie nodig om optimaal te funksioneer nie. Vir suiker om ‘n onbetwisbare plek in ons dieet te behou, moet dit die enigste bron van energie vir ons liggame wees en danksy soveel navorsing, weet ons dat dit ‘n leuen is. Vele ander bronne van energie is aanwesig in ons dieëte. Inteendeel, suiker laat ons goed voel vir ‘n kort oomblik, maar sodra dit deur ons sisteem verwerk is, dan voel ons pap en lusteloos en die enigste manier om weer die “lekker” gevoel van suiker te kry, is om nog suiker in te neem. Die uiteinde: ‘n vernietigende sirkel van emosie.

Die suikerindustrie is ‘n geweldige groot en magtige industrie en ek kan beswaarlik verwag dat hulle enige persoon gaan ontmoedig om suiker te gebruik. Inteendeel, hulle voortbestaan hang af van die verleidings- en verlawingselement van hulle produk en dis ook hoe hulle dit bemark aan ‘n niksvermoedende publiek. Hulle invloed is so groot en magtig dat daar bykans geen verwerkte produk sonder suiker beskikbaar is nie. Dit is ‘n bestanddeel in babaformule, bokspap, brood, slaaisouse en talle meer. Om die waarheid te sê, dit is suutjies ingewerk in alles wat lekker en smaakvol is omdat ons smaakpapille so aangepas is dat dit nie meer die smaak aangenaam vind SONDER die suiker nie. Die verbruikers vind nie fout met die smaak nie en daarom is daar ook geen teenkanting van hulle kant af nie. Slegs diegene wat dieper kyk en vrae vra gaan op die waarheid rakende suiker afkom wat hulle dan noodwendig gaan dwing om dit uit hulle lewe en dieet te sny.

En dis presies hier waar ek my punt maak en daarop staan dat godsdiens en die christelike geloof presies dieselfde as suiker in ons lewens is.

Ons word daarmee groot. Ons word daarin gebore. Ons word opgevoed in die christelike geloof en ons gebruik dit omdat dit “onskadelik” blyk te wees en na alles, kan mens jouself kwalik ‘n lewe indink sonder dit. Christene vra nie vrae oor hulle godsdiens nie, want dit is verkeerd en godslasterlik om dit te bevraagteken. Intussen gebruik hulle rustig voort aan die soete verleiding met die veronderstelling en gedagte dat dit nie skade kan doen nie. ‘n Teksie in die oggend, ‘n gebed hier en daar, nog ‘n teksie op my Facebook muur, nog ‘n gebed daar, ‘n Whatsapp kettinggebed en dan is ons by Sondag wat die nagereg op die spyskaart is. Alles in goeie gees en onskadelik, maar niemand blyk waar te neem dat dit ‘n emosionele verslawing is nie. Dis subtiel en allesoorheersend, ‘n magtige en verreikende industrie waarin daar staat gemaak word op die verbruikers se emosie en natuurlik speel geld ‘n groot rol.  En nog steeds is christene onbewus van die enorme tentakels van hierdie industrie.

My afstand tussen Christendom en die Bybel is nie a.g.v. christene nie. Dis a.g.v. die valsheid van die geloof en daaroor sal ek by ‘n volgende geleentheid meer sê.

 

 

 

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s