1984

Ek staar na ‘n rekenaarskerm voor my. Hopelik kan die ding nie terugstaar na my nie. Sy indringer loergaatjie-ogie is toegeplak met ‘n stukkie swart maskeerband. Die wete dat dit deur my toedoen is, gee my so ‘n sadistiese lekkerkry gevoel! Pê wê, kry vir jou! Dit sus so ‘n klein bietjie. Die wete dat ek dink ek is veilig van indringeroë deur loergaatjies wat knaend my privaatheid en persoonlike ruimte indring en bedreig.

In ‘n klaskamer, meer as dertig jaar gelede, het ek my wood-houses-school-old.jpgaltyd-soekende brein losgelaat en my sinne verdiep in George Orwell se aangrypende verhaal 1984. Dit was 1983, my Matriekjaar. Wat sou 1984 inhou? As ek die wêreld waarin Orwell my ingelaat het moes beleef in my 1984, dan was ek definitief nie gereed daarvoor nie! Die aanvanklike skok ter syde, kon ek net eenvoudig nie in my wildste verbeeldingsvlugte realiteit gee aan Orwell se aanmatigende postulasie nie.

Internet was ‘n konsep en onderwerp wat nog lank nie in algemene gesprekke voorgekom het nie. Dit was ‘n vreemde konsep, ‘n onderwerp met ‘n onbeperktheid. Een wat onbekend en vaag was vir my en meeste ander van my 1983-matriekklas. Geeneen het geweet wat die omvang en reik van hierdie vreemde nuwe tendens sou wees nie. Behalwe dat dit ‘n verre, vreemde toekoms-ding was waarvan min mense die konsep kon kop, was dit ook ‘n onwerklikheid in die afwesigheid van tegnologie. Boeke en biblioteke was die enigste web van inligting en kennis bekend aan my en daar was nie ‘n kans of moontlikheid dat indringeroë na my kon loer terwyl ek op hierdie web rondvaar nie. Ek weet waar my gelukkige plek was. Dit was onbetwisbaar nie in die wêreld van 1984 nie.

Nou, jare verwyderd van 1983, is George Orwell se 1984 ‘n werklikheid. Die afwesigheid van die internet is vandag ‘n verre, vreemde konsep. Ons lewens het intens verstrengel geraak in hierdie eens vreemde konsep. Skole het op grootskaal gewillig begin wegdoen met die vervloë web van kennis en inligting en in die plek van biblioteke en boeke, is daar nou tegnologie en internet. Ons lewens word letterlik beheer deur die tegnologie tot ons beskikking. Ons word regeer deur ‘n owerheid wat universeel heers en wat geen stemme of verkiesingsveldtogte benodig om hierdie posisie van oorheersing te behou nie. Slawerny is ‘n gewillige opsie.

pexels-photo-696217.jpeg1984 is ‘n werklikheid. En ek word dopgehou. 1984 het nie presies in my 1984-jaar in aanvang geneem nie. My vrese was nie ongegrond nie, want hoe kon ek myself voorberei vir so ‘n koue ontmoeting? Dit het stadig, treetjie vir treetjie, soos ‘n opstuwende watermassa my lewe binnegekom om te bly. Daar was geen voorspelling wat die werklikheid van die vloed akkuraat kon omskryf nie.  In die naam van vooruitgang het die stroom my meegesleur sonder waarskuwing.

Peuters, kleuters, tieners, middeljariges en bejaardes. Almal vasgevang in hierdie nuwe web van inligting. Almal in pas met die nuutste tegnologie. Almal konstant in voeling met wêreldgebeure, modegiere, suksesstories en skindernuus met die kliek van ‘n knoppie! Vanmelewe se familie foto-albums en herinneringe van goeie, gelukkige tye is vervang. Facebook, Instagram en Tumblr is die hedendaagse bergplekke van my foto’s en herinneringe. Wat het gebeur met my boeke? Die boeke met die onwrikbare reuk van ouderdom en leer gemeng tot soete lekkerlees-verhale. Met dieselfde knoppie se kliek word dit nou op ‘n elektroniese apparaat afgelaai. Terwyl ek na nuusgebeure en foto’s kyk, is daar ‘n indringer loergaatjie-ogie wat na my kyk. Terwyl ek my gunsteling boek lees, is daar ‘n indringer loergaatjie-ogie wat my lees. Die skok van werklikheid dring stadig deur.

pexels-photo-459694.jpeg

Ek kla nie oor die tegnologie nie. Ek kla ook nie oor vooruitgang nie. Ek kla eerder oor die indringer wat nie deel van my vlees en bloed is nie. ‘n Vreemde soort gesiglose indringer wat my vasgevang het in ‘n web. Voeg by my klagte die feit dat ek my privaatheid moet inboet. Die een stukkie van my wat eie en uniek is aan my – my persoonlike ruimte, dit moet ek deel. Die klagstaat groei. Ek kla oor die nostalgie wat verlore geraak het met die verlies van ons gekoesterde familie foto-albums. Ek kla oor die verlies van daai warm gevoel in my binneste by die ruik en aanvoel van ‘n boek met vergeelde bladsye gevul met boeiende intrige. Ek kla oor die feit dat ons familietafel met sy hartlike gesprekke en tydlose gasvryheid moes plek inruim vir een of ander soort elektroniese apparaat met sy alewige indringer loergaatjie-ogie. Die stille inluisteraar en afloerder wat ek moet duld sonder teëstribbeling.

Die ontnugtering waarmee 1984 hand-aan-hand geloop het wek ‘n ontevredenheid in my op. Ek is ontevrede oor die dinge wat ek moes opoffer in die naam van tegnologie en dat ek daarmee saam die indringer loergaatjie-ogie te alle tye moet troef en duld. Toegegee dat inligting soveel makliker en meer vrylik beskikbaar is, is ek steeds nie ‘n tegnokraat nie en ontbreek die ywer in totaliteit. Daarvoor is ek en die indringer loergaatjie-ogie te veel in konflik. Ons sien nie oog om oog nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s